Donkerhoek Verkenners

Donkerhoek Verkenners

Thursday, November 24, 2011

Donkerhoek fees


Die Donkerhoek Verkenners het weereens hierdie jaar die slag van Donkerhoek herdenk deur ‘n Donkerhoek fees aan te bied.

Die dag is vroegoggend begin met ‘n manne-ontbyt waarna al die mans ouer as 65 wat op Kleinfontein woon genooi is, wat reeds vir die VVK verkiesing geregistreer het. Hierdie “Ooms” is bederf met ‘n lekker Boere-ontbyt deur die Donkerhoek Verkenners.

Die feesprogram het om 10h30 afgeskop met ‘n vlaghysing waar die Transvaalse Vierkleur en Vrystaatvlag gehys is. ‘n Besielende boodskap is daarna gelewer deur Abie Benecke, een van die inwoners van Kleinfontein, tydens die opening met Skriflesing en gebed.

Daar is min goed wat ‘n Boer se hart so warm laat klop, soos ‘n mooi boerperd. As daar dan ‘n optrede van 30 perde is, met volksvlae, op die maat van die gewilde “de la Rey” lied,  sal dit beslis byval vind by volksgenote en hierdie was geen uitsondering.

Die Nasionale jeugleier van die Verkenners, Advokaat Jan Van Zyl, het die feesrede gelewer en Paul Kruger, voorsitter van die Volksraad Verkiesings kommissie, het die feesgangers ingelig oor die vordering by die VVK.

Die res van die dag is gekenmerk deur tradisionele, “lekker”, volksfees aktiwiteite soos Boeresport en skyfskiet. Verkenner Driaan Beyers, voorsitter van die reëlingskomitee, het gesê dat daar besluit is om toegang tot die fees gratis te maak, om die fees toeganklik te maak vir alle volksgenote. Om die kostes van die fees te delg, is daar ‘n veiling gehou van Afrikana, wat goed ondersteun is.

Die fees sal beslis volgende jaar weer plaasvind en volksgenote kan gerus Saterdag 9 Junie 2012 in hulle dagboeke aanteken.

No comments:

Post a Comment