Kersfees 2010 was ‘n baie hartseer tyd vir twee meelewende Kleinfonteiners, Verkenner Johan Botha en sy vrou Risella. Hulle het met groot blydskap uitgesien na die geboorte van hul seuntjie. Sy bedjie was reg op sy plek, kleertjies mooi uitgepak in die laaikas. Kombersies, spoeg doeke, alles was reg vir sy koms. Min het hulle geweet dat hulle daardie goedjies weer moes wegpak, want die Here het vir Ruan kom haal, ‘n skrale week na sy geboorte. Hy is met ‘n keisersnit in die wêreld gebring, Mamma en Pappa was vreeslik opgewonde. ‘n Uur later is hy in die intensiewe eenheid opgeneem, waar hy geveg het vir sy lewe.
Die dokters het hom gediagnoseer met ‘n baie komplekse hartdefek. Behalwe vir dit, was sy hart aan die regterkant, het sy lewer nie normaal gefunksioneer nie en was sy dermpie nie verbind aan sy anussie nie. Sy nefie, Janneman, het dieselfde hartdefek gehad, maar die Here het hom 3 jaar gespaar. Nou is die 2 nefies by hul Vader in die hemel, waar hulle nooit weer pyn sal verduur nie.
Kersfees 2011 lê om die draai, en raai wat? Risella is weer swanger! Natuurlik is almal vreeslik opgewonde saam met hulle en bid dat die Here se genade oorvloedig oor hulle sal wees. Die Here gee vir hulle weer ‘n seuntjie.... met dieselfde hartdefek... Almal is plat geslaan, vra vrae, worstel... Maar soos God in Sy Woord troos, gee Hy die krag altyd saam met die beproewing. Die Botha’s het hulle koppe opgetel en die Here gevra vir leiding. Hulle het by Sunninghill (waar ‘n kinder harteenheid is) aangeklop vir hulp. Toe kom die verdoemende uitslag: die kans is BAIE skraal dat die baba sal oorleef, termineer die baba!
Weer is hulle platgeslaan: vra vrae, worstel... Hulle word verwys na die Kaap, en gelukkig is hulle meer positief- Dr Susan Vosloo (wat onder dr. Chris Barnard gestudeer het) sien kans om te veg vir hierdie kosbare lewetjie! As alles goed gaan, word hy middel Februarie gebore. So daar kan voorbereidings getref word vir sy koms. Die plan sovêr is om met 3 groot operasies die hartjie reg te kry, waarvan die eerste die gevaarlikste is. Maar hulle toekoms is so onseker. Net die Here alleen kan hulle lei soos dit in Sy raadsplan is. Bid asseblief vir hulle! Die Bybel leer ons egter om te bid en te werk. Daarom het die Donkerhoek RVB (Republikeinse Vrouebeweging) dit goedgedink om ‘n Kersmark te hou op 3Desember 2011 vanaf 9h00 by die Uit en Tuis Winkel Sentrum op Kleinfontein ten bate van Baba Botha.
Indien u eerder ‘n donasie wil maak is u ook welkom.
Die bankbesonderhede is as volg:
Bank: ABSA
Naam: KSKK Beperk
Tak: 632005
Rek.nr: 4060092627
Verw: 177G (en u naam)
Kom ons maak ons harte oop vir hierdie egpaar wat deur so ‘n moeilike tyd gaan. En al beplan die Here dit anders, moet ons steeds vir mekaar kan sê: Soli deo Gloria! (aan God alleen die eer)
No comments:
Post a Comment