Op die 24 September 2011, was die landswye VVK verkiesingsdag om ons eie Volksraad te verkies!
Groot opgewondenheid is landswyd ervaar, vir die meeste van ons was dit die eerste keer dat ons gaan stem, ander van ons het al jare gelede weggebly van die sogenaamde demokratiese verkiesings. En hier het ons die geleentheid gehad om aan ’n Volksverkiesing deel te neem!
Donkerhoek Verkenners is getaak deur die verkiesingkommissie van die VVK om ook hier op Kleinfontein ’n stempunt te organiseer en te beman. Tipies van ’n Verkenner is hierdie uitdaging met ywer en lus aangepak .
Daar is toe ’n komitee saamgestel wat die dag moes organiseer en beplan, die komitee het besluit om van die geleentheid gebruik te maak om ook Kleinfontein te bemark. ’n Program is saamgestel vir die dag en daar is toe volstoom aan die werk gespring!
Die volgende uitdaging was “hoe gaan ons die dag bemark”? Die Republikeinse Vroue Beweging (RVB) het ingespring en baniere met die hand geverf wat opgesit is by die Poorte, plakkate is bekom by VVK en opgesit, strooibiljette is gedruk en versprei van huis tot huis op Kleinfontein.
Daar het ‘n gevoel ontstaan dat bemarking op ’n groter skaal aangepak moet word. Hieruit is Kleinfontein Sakekamer gestig! (eerste op Kleinfontein) Onder leiding van Hendrik Verwoerd (voorsitter) is daar pryse beding by Radio Pretoria, promosie gesprekke gevoer op die radio van besighede hier op Kleinfontein. Terug oor promosie gesprekke was deurgaans baie positief.
Daar is gevra of dit nie die ideale geleentheid sal wees vir die oprigting en onthulling van die Verwoerd -borsbeeld wat toe alreeds ’n geruime tyd onder ’n lap in die Gemeenskapsaal “gestoor” is nie. Die gedagte is ook positief deur die Gemeenskap ontvang en dadelik moes daar werk van gemaak word omdat daar slegs twee weke beskikbaar was om alles te reël. ’n Verwoerd borsbeeld komitee is aangewys en daar is aan die werk gespring en mense wat gereken het dat die twee weke te min was se monde is gesnoer!
Op die 24 September 2011 om 09:00 die oggend is die beeld onthul, op gepaste wyse, ook ’n eerste hier op Kleinfontein – hier was selfs ’n verbyvlug van vier vaste vlerk vliegtuie tydens die onthulling!
Terwyl al hierdie bedrywighede plaasgevind het op Kleinfontein , moes die hoofdoel van die dag ’n sukses wees naamlik dat ons nie moes vergeet om ook te gaan stem nie! Registrasie beamptes asook ander inwoners is nader getrek om die stem punt te organiseer en beman.
Vergaderings is gehou, die stem punt is beplan en alles was behoorlik in plek op stemdag, Landswyd is hier op Kleinfontein die meeste stemme uitgebring!
Langs hierdie weg baie dankie aan almal wat deel was van die GROOT sukses van die dag.
Ek is trots daarop om deel van hierdie Volk te wees!
Soos die Verkenner slagspreuk sê ONS KAN , ONS WIL , ONS SAL!