‘n Paar wakker dames….
Toe dit enigsins voel of hul teruggehou word, terwyl hulle met opgeboude energie in die wegspringblokke hurk…. toe word die Republikeinse Vroue Beweging gebore!
4 Desember op Paardekraal feesterrein trek ‘n handjievol vroue saam om hierdie dinamiese nuwe beweging in die lewe te roep. Na ‘n paar e-posse rondgevlieg het in die komende dae, besluit ons dat die “Republikeinse vroue beweging” alles sê wat ons is..
Oor die leuse was daar van die begin af eenstemmigheid: Kaalvoet as ons moet.
Kort daarna word 2 takke gestig: RVB Paardekraal en RVB Donkerhoek.
RVB Donkerhoek (voor 7 Januarie vanjaar was almal by Aksie vrouekrag betrokke), gaan op 5 Februarie ons staal wys. Met die inisiatief van die Verkenners van Donkerhoek, gaan daar een massiewe VVK registrasiedag gehou word in Moreletapark in die ooste van Pretoria. Alle Verkenner-poste, die HNP, Registrasiebeamptes van die VVK en ‘n paar vrywillige gaskunstenaars gaan sorg vir ‘n heerlike saamkuierdag op die hoek van Villa Boise en Witdoringstrate. En wie gaan sorg vir die innerlike versterkings? RVB Donkerhoek natuurlik!!! Kaalvoet as ons moet!!!
Soos een vrou doen ons, beweeg ons, werk ons….
(Natuurlik met ‘n paar stringe kindertjies op ons hakke).
Wat is die RVB Donkerhoek?
Dit is ‘n kultuurorganisasie vir dames in die Donkerhoek-streek of verder…
Dit is gewone vroue - met of sonder kinders, met of sonder man, met of sonder spiere…
Die meeste is opgelei in noodhulp. Die res gaan nog leer…
Almal het selfverdedigingskursusse gedoen. Of liewer aanvalstegnieke as dit moet…
Ons kan bak (of brou), ons kan kook (of kou), ons kan werk, of speel, of lag (en huil)….! Ons ondersteun die Verkenners (al moet ons in die middel van die nag vir hul koffie gee).
Ons almal streef na VRYHEID met ons Christelike beginsels as riglyne.
Ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee.
Bestuur van RVB Donkerhoek
Voorsitster: Aliena Beyers
Sekretaresse: Anneke Geldenhuys
Penningmeester: Anita Schutte
No comments:
Post a Comment